Tue. Nov 12th, 2019

Wordfest South Africa

Wordfest is South Africa’s premier multilingual festival of languages and literatures with a developmental emphasis.

Christo Wiese: die seder val

3 min read
TJ Strydom

TJ Strydom

T.J. Strydom begin sy boek Christo Wiese: Risiko en Rykdom met Christo Wiese wat by ‘n Londense lughawe betrap is met ‘n tas vol kontant wat destyds ter waarde van sewe miljoen rand was. “Ek word by ‘n lughawe senuweeagtig wanneer ek ‘n spuitbottletjie in my handbagasie het en Wiese is gestop met veertig-duisend pond,” sê Strydom by sy boekbekendstelling.

Strydom vertel hoe ‘n 76 jarige man 23% van ‘n globale meubel handelaar besit en hoe die 23% ter waarde van 3,5 miljard Euro’s skielik daal na slegs ‘n paar miljoen Euro’s. “Voorheen was Wiese die rykste man in Suid-Afrika. Nadat die aandeelprys neergestort het, het hy slegs een van die top tien geword. Al wat oorgebly het, was sy 50% -belang in Shoprite, sy wynplaas in Louisburg, sy bungalow in Clifton en ‘n paar privaat “jets”. Skielik moes hy regtig dink oor hoe hy dit gaan maak en hoe hy gaan oorleef. Shame!” terg Strydom terwyl hy sy gehoor vermaak.

Met ‘n nederige begin as meubel vervaardiger tot ‘n globale kleinhandelryk is Steinhoff  die sewende grootste maatskappy wat op die 5de Desember 2017 op die JSE genoteer was en die tweede grootse meubelhandelaar in Europa. Op daardie stadium het Steinhoff bedrywighede in die VSA, die VK, Asië, die Pacific rim, Australië en natuurlik ook in Afrika gehad. Toe verander alles…

Strydom is deur ‘n uitgewer gevra om die biografie boek te skryf. “Ek het die aanbod aanvaar omdat ek dit interessant gevind het. So ek het ja gesê en navorsing begin doen,” verduidelik Strydom.

Strydom verduidelik dat Wiese se fortuin ‘n baie nederige begin gehad het. Hierdie meubelvervaardiger is van sy nederige begin tot ‘n globale kleinhandelryk verander, maar op 5 Desember was amper 40% van die aandele by Steinhoff op lening. Mense het geglo die maatskappy se aandeelprys sou val. Dit was groot finansiële instellings in die VSA en in Europa en hulle het gespeel teen die oorlewing van Steinhoff. Op die aand van 5 Desember het Markus Jooste as uitvoerende hoof bedank en die volgende oggend het die maatskappy aangekondig dat hulle nie die finansiële resultate van 2017 soos verwag sou publiseer nie. Die aandeelprys daal met 60% daardie oggend, wat ‘n rippel-effek begin het waarin die maatskappy sowat 97% van sy waarde sou verloor oor die volgende twee maande.

Strydom vertel dat die 1990’s ‘n tyd was waar Christo Wiese oor absoluut alles praat: “Hy is op hierdie stadium vriende met die staatspresident. Hy is goed verbind in verskeie politieke affiliasies. Hy is die hoof van die nywerheidsontwikkelingskorporasie. Hy is op die raad van SANLAM. Hy is op SASOL se direksie. Hy is op die direksie van die reserwebank en word dan betrokke by bankwese. Hy koop Boland bank wat op daardie stadium ‘n streeksbank was. Boland word in die volgende halwe dekade ‘n bankkonglomeraat, wat uiteindelik BOE genoem word. Teen die einde van die 90’s is hy die 5de grootste bank in die land en die tweede grootste op markwaarde.”

Strydom glo sterk dat Wiese op die regte plek op die regte tyd was. Hy sê die paar baie belangrike ontmoetings wat hy gehad het het hom gehelp om die rykste man in die land te word.


Hierdie artikel is geskryf in Afrikaans. Kliek op jou voorgevoerde taal om dit in Engels en seSotho te lees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *